|
|
‘Gees van omgee kom kort’
Louise Ferreira
Hy het as vrywilliger begin werk om gemeenskapsdiensvereistes vir sy skool te voltooi en omdat sy ma gedink het hy “moet ’n bietjie grootword”.
Nou bring Jacques van Rhyn (17), ’n gr. 11-leerling aan die St. John’s College in Johannesburg, gereeld naweke en vakansies deur by die Johannesburg School for the Blind in Auckland Park en die nabygeleë Children of Fire.
Laasgenoemde is ’n welsynorganisasie vir kinders wat ernstige brandwonde opgedoen het.
Jacques het in Desember met sy gemeenskapsdiens begin.
“By Children of Fire het ek al ’n paar goed gesien wat my verander het, hoor.
“Die groot probleem is dat ons nie eintlik geld het nie, so ons neem die kinders na staatshospitale.
Ek was nou die dag in die Charlotte Maxeke-hospitaal. Dit was nogal interessant. Daar was gevangenes!” sê hy grootoog.
Een van die dinge wat hy saam met Children of Fire doen, is om na townships en plakkerskampe te gaan om hulp te verleen ná brande.
“Op die nuus sien mens van die riots in die townships en jy dink mense gaan soontoe om vermoor te word. Later het ek besef nee, dit is nie so nie. Hulle gaan nie jou kop met ’n panga inslaan nie.
“Ek besef ek het baie beskermd grootgeword.”
Dit irriteer hom dat mense dikwels maar min omgee, sê hy.
“Ons is regtig baie bevoorreg. Ons moet ’n kultuur skep waar mense omgee.”
Jacques praat entoesiasties oor die werk wat hy by Children of Fire doen. Op sy trui pryk ’n prentjie van ’n halwe glas water met die woorde “Half Full”.
“Jy mag nie trots wees nie, het ek uitgevind. Ek moes al doeke omruil. Dis vir my vreemd hoe baie ek verander het!”
Die manier waarop mense geneig is om mense met ooglopende brandwonde te behandel, pla hom, sê hy.
“Ek sal in Cresta saam met een van die verbrande kindertjies stap en mense sal vra wat gebeur het. Mense gaap hulle op straat aan.”
Sy ervaring by Children of Fire het hom so geïnspireer dat hy dit oorweeg om ná skool medies te studeer.
“Dit gaan nie oor die cliché van lewens red nie, maar om ’n verskil in mense se lewens te maak.”
By die skool storm Nelson Tshabalala (8) en Dikeledi Mboko (9) op hom af.
Albei is ernstig in huisbrande beseer. “Jacques!” gil hulle opgewonde. “Jacques!”
“Dis een van die redes waarom ek altyd terugkom,” sê hy terwyl hy hulle vashou.
“Hulle raak baie geheg aan jou.”
Source: http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Gees-van-omgee-kom-kort-20110818
|
|
|
|
|
|
|

|
|
This material is Copyright © The Dorah Mokoena Charitable Trust and/or Children of Fire , 1998-2025.
Distribution or re-transmission of this material, excluding the Schools' Guide, is expressly forbidden without prior permission of the Trust.
For further information, email firechildren@icon.co.za |
|
COPYRIGHT © 2025 Children of Fire. All rights reserved. |
|
|
|
|